Sonja Goldberg oor reuse vlermuise, deurnagbid en ‘n dieper omgee

‘n Pastoor, skrywer, omroeper, spelterapeut en berader van Kaapstad skryf oor Oh Danny Boy, asem ophou-oomblikke, bulte en plooie, en die reuk van ‘n hofgebou.

1 Watter vreugdes uit jou kinderjare lê jou na aan die hart?

Daar is so baie, maar dinge wat ek uit my kleintyd onthou wat ons groot pret verskaf het, was die tyd wat my pa vir ons vlieërs help bou het om mee te vlieg, en stelte gemaak het waarop ons kon loop (baie geval en baie gelag). Ek onthou my ma wat vir ons kos maak, maar ook ‘n ma wat vir my Bybelstories en gedigte voorgelees het.  Ek onthou nog die intonasie van haar stem en die klap van haar tong. Ek onthou veral die swaai in ons agterplaas waarop my broer my altyd so hoog geswaai het dat my ma hom daaroor moes aanpraat.

My broer was 6 jaar ouer as ek en my suster 5 jaar ouer. Ons het op Upington groot geword en dikwels in die Oranjerivier gaan swem. Die reuk van die modderwater en die klank van die sonbesies sal altyd een van my lekker-kry herinneringe bly. Ek het juis eendag so byna verdrink in daardie einste rivier. Ek het van die kant af met ‘n binneband om my lyf in die rivier gespring en dan aan ‘n wilgertak wat in die water gehang het, gegryp sodat ek nie stroom-af dryf nie. Eendag was my ouers nog besig om die piekniekgoeters uit te pak en ek besluit om solank in te spring. My hande glip los en ek verdwyn onder die water. Gelukkig was my broer juis op daardie oomblik besig om vir my te kyk en kon toe sommer met klere en al induik by die plek waar ek verdwyn het. Groot verligting en groot vreugde vir almal. Nodeloos om te sê was hy van toe af my held

Ek onthou hoe my ma en tannie Hilda, ons baie goeie huisvriende - die Du Toits - altyd Desembermaande saam klein koekies gebak het vir Kersfees. Die geur van koekies bak, sal my altyd terugneem na daardie goue tye.

Foto: Pexels

Terwyl die oudste twee kinders nog in die huis was, het ons altyd saans na ete saam om die tafel Bybel gelees. Daarna sou ek klavier speel en dan sing my pa en broer en sus liedere. Eers Hallalujas, en dan van Oh Danny Boy, Bless this House en Words, tot by Frank Sinatra se I did it my way. Dis goue herinneringe.

Wintertye sou ons soms Sondagmiddae uitry duine toe en dan het ons daar “bok-bok” gespeel. Somertye het ons kampbedjies op die agterste grasperk opgeslaan en ek onthou hoe ons ons lakens eers nat gespat het met water en dan ‘n waaier aan ‘n verlengkoord uitgedra het om oor die laken te waai voordat jy gaan lê. Upington raak skreiend warm in die somer! Maar die heel spesiaalste tye was wanneer my pa ons na die maan, die suiderkruis en sterre laat kyk het. Ons almal wat so lekker naby mekaar kon lê en saggies gesels oor die ruimte en sterre... dit was vir my die toppunt van geborgenheid.

My pa het nooit ‘n kerkdiens gemis nie en my ma het op ‘n stadium toegesien dat ons Sondae sulke groot wyerandhoede dra. Ek en Elsa het baie grappies gemaak oor daardie hoede – tot my pa se misnoë vanwaar hy uit die ouderlingsbank na ons gekyk het. Sy sou haar hoed met albei hande teen haar kop druk en onder my hoed induik om vir my iets baie sedig te sê wat super snaaks en simpel was. En ek was dan heeltemal hulpeloos van die lag. Baie dae was dit ‘n groot gesukkel om my tot bedaring te kry. Kostelike herinneringe! Ja, my kindertyd was ongelooflik spesiaal.

2 Jy het jare lank vir kinders met groot uitdagings skoolgehou. Wat bly jou by wanneer jy terugkyk?

Hierdie is eintlik ‘n wonderlike getuienis in my lewe. Ek het ‘n Jeanine-vriendin wat altyd ongelooflike “compassion” het vir mense wat minder bevoorreg is. Haar omgee is net dieper en op ‘n heel ander vlak as die meeste ander mense wat ek ken. Op ‘n stadium het ek begin om vir die Here te vra dat Hy vir my ook so ‘n dieper omgee vir ander mense wat minder bevoorreg is, moes gee. ‘n Hele paar jaar nadat ek dit begin bid het, trek ons Kaap toe. Eers aanvaar ek ‘n pos by ‘n skool vir kinders met Downsindroom en ‘n jaar later kry ek toe die pos by die skool vir Serebraal- en Fisies gestremde kinders. Ek het geen benul gehad van wat dit behels nie. In my raamwerk sou ek skoolhou soos wat ek nog maar altyd gedoen het, want hulle volg mos die Hoofstroom-kurrikulum.

vrou-en-dogtertjie-met-downsindroom

Maar ek moes ontdek dat skoolhou ‘n heel ander betekenis sou kry. Weg was die dae van soek na die slimste kind in jou klas, of die bontstaan om ouers te beïndruk met hul kind wat wonderlik presteer. Ek het gou geleer hoe meer liefde en omgee ek gee, hoe beter is die resultate om ‘n kleintjie te kan help om uit die rolstoel op te staan ná ‘n groot operasie, of om ‘n dogtertjie sonder hande te leer om op ‘n rekenaar te werk.

Foto: Pexels

Dit was die plek waar Jesus my fisies en emosioneel geleer het om vir alle mense (bruin, swart, wit, geel, gestrem, arm, ryk) ongelooflik lief te raak. Baie dae het Hy my verstom gelaat oor die diepte van omgee wat ek in my hart begin ervaar het.

Wat my altyd sal bybly is dat kinders wat in rolstoele is, of kinders wat deur ‘n groot operasie is, of ‘n kind wat sonder arms of bene is, almal die wonderlike gawe van God ontvang het om sommer net blydskap te kan ervaar bloot omdat dit ‘n nuwe dag is. Ek moes menige keer verby ‘n groot, hartseer knop in my keel sluk en maar lag wanneer ek stories van kollegas hoor van ‘n soektog tussen die speelgoed op die mat na die glasoog van ‘n kleintjie. Of wanneer die dogtertjie wat op prostese loop, dit sommer vinnig afhaal as sy voel sy kan vinniger op haar stompies saam met die maatjies beweeg.

God plaas so ‘n groot premie op ons wat vir ons naaste liewer moet wees as vir onsself. Hier het Hy my prakties geleer hoe dit werk en ek sal Hom altyd daarvoor dankbaar wees. Ek het geleer dat dit nie meer belangrik is watter oulike juffrou ek is nie. Hierdie kinders baat veel meer by iemand wat opreg belangstel, omgee en wat vir hulle lief raak soos vir ‘n eie kind. Ek het deur die jare by hierdie kinders geleer wat werklike swaarkry is en hoe dit is om probleme te oorkom deur bloot aan te hou en uit te hou. Hulle het my gereeld geleer dat geen probleem so erg is dat daar nie ‘n oplossing daarvoor is nie.

Hier verduidelik Sonja waar om hoop te vind wanneer die golwe van die lewe ons wil verswelg.

3 Hoe het jy jou teologiestudie ná jou aftrede as onderwyseres ervaar?

My man was vir jare ‘n radio-omroeper, programbestuurder en ook later Stasiebestuurder by ‘n radiostasie en hy het sy eie klankateljee hier by die huis. Nadat ek my studies voltooi het, was hy die een wat my aangemoedig het om Oordenkings te begin skryf. Ons het dit met my stem opgeneem, in sy ateljee, en hy het dit na verskillende radiostasies gestuur. Ek was so bly, want vir my was dit ‘n manier om God se Woord te versprei.

sonja-goldberg-inspirasie-vir-jou-lewensreis-voorblad

Op ‘n stadium het my sus, Elsa Winckler, my gevra om ‘n Oordenkingsdagboek saam met haar te skryf wat NB uitgewers uitgegee het. Daarna het sy my aangemoedig om een op my eie te skryf. Ek is gelukkig en dankbaar dat LUCA uitgewers dit in twee boeke verdeel het en die een in 2023 en die ander ene in 2024 uitgegee het. Intussen het my jongste seun my aan die YouVersion toep bekend gestel wat ‘n mens gratis op jou foon kan aflaai en het ek ook begin om Oordenkings in Afrikaans vir hulle te skryf.

sonja-goldberg-wysheid-vir-jou-lewensreis-voorblad

Soms nooi RSG my ook vir ‘n reeks oordenkings wat hulle uitsaai. Daar is nou juis weer ‘n reeks wat van 3 tot 8 Maart 2025 uitgesaai gaan word. Nadat ek afgetree het, het iemand wat as student saam met Eddie in ‘n orkes hier op Stellenbosch gespeel het, hom gevra om te help met hul orkes by FamilieKerk, Bottelary. Eddie het so dan en wan uitgehelp met hul orkes vir Sondae. Op ‘n stadium hoor ons die predikant gaan weg en toe vertel Eddie se vriend vir die hoofgemeente by Vredelust (Familiekerk is ‘n satelliet van Vredelustgemeente) van my. Toe ek en Eddie ons oë uitvee, nader hulle ons om die leiding by FamilieKerk oor te neem.

Ek kyk terug en kan net uitroep: “Our God is an awesome God.” (Ek wou eintlik graag ‘n predikant word, maar toe ek in matriek was, was vroue nog nie in die Kweekskool toegelaat nie, daarom toe die onderwys. Deur die jare was die Bybel nog altyd my passie en was ek maar altyd besig met een of ander Bybelkursus.) Presies 49 jaar later stel God my aan by ‘n gemeente om voltyds vir Hom te werk. Ek voel so begenadig! Ek geniet hierdie werk – of dis nie ‘n werk nie, dis ‘n deelname aan die bou van God se koninkryk – met my hele hart. Alles is vir my heerlik en ek is oneindig dankbaar dat God my op hierdie ouderdom nog kan gebruik.

4 Hoe vind jy balans tussen jou werk by die Familiekerk Bottelary in Brackenfell, jou radiowerk, spelterapie-intervensies en skryfwerk?

Ek moes leer dat ek soms mag nee sê, of “jammer, nie nou nie,” of bloot net: “Ek kan nie help nie.” Dit was vir my swaar, want ek het eers hard probeer om al die balle in die lug te hou. Gelukkig het Jesus sommer so algaande self begin om my te help om te prioritiseer: Hy het sekere dinge laat ophou en ander weer laat eskaleer.

skootrekenaar-en-blomme

Gelukkig is die radio-werk soggens van 6.00 tot 7.00, die Spelterapie-intervensies bepaal ek net vir sekere middae, en die skryfwerk hou ek vir soggens terwyl my brein nog vars is. Wanneer ek preke voorberei, moet die skryfwerk wag. Die mense wat ek gaan sien, gebeur so tussendeur. Sondae is natuurlik ‘n volwaardige “werksdag”, maar vir my voel dit glad nie soos werk nie. Dis vir my vreeslik lekker om by die kerk te wees en die energie te ervaar van almal wat opgewonde is om bymekaar te wees. Ek is altyd dankbaar om deel te mag wees van ‘n groep gelowiges wat saamkom vir lofprysing en aanbidding.

Foto Pexels

5 Vertel van jou kinders en hul gesinne – jy is so bevoorreg om ‘n ouma te wees!

Ek is diep dankbaar dat die Here vir my drie kinders gegee het. Melanie is die oudste, dan Jannie en dan die jongste, Johan. Ek is oorweldig deur dankbaarheid vir die voorreg om ‘n Ouma te mag wees. Dis iets waarvoor ‘n mens net nooit die regte woorde het om dit te beskryf nie.  

sonja-goldberg-en-dogter-melanie

Melanie en haar man en hul twee dogters (hierbo) woon al vir 6 jaar in Sydney. Sy is ‘n projekbestuurder by Sonic Helathcare in Sydney. Die dogters is onderskeidelik 13 en 8 jaar oud. Hulle is ongelooflik talentvol en oulik.

sonja-goldberg-met-jannie-en-sy-gesin.jpeg

My seun Jannie (hierbo met sy gesin en Sonja se man, Eddie) is “Executive Head for Products and Innovations” by C-track in Pretoria. Hy en sy vrou het ‘n pragtige dogter, 12 jaar oud. Sy is op pad om ‘n wonderlike perderuiter te word.

My kleinkinders is “natuurlik” die heel mooiste en oulikste in die hele wêreld!☺

My jongste, Johan (hierbo saam met sy vrou, Madali), is “Lead Pastor for Hope Family Church in Mossel Bay.” Hy en Madali is nou ‘n jaar getroud en die gemeente wat hulle geplant het is ook nou ‘n jaar oud. Die Here gebruik hulle kragtig in sy diens. Hy is my laatlam, die “baba.” (10 jaar later…)

My kinders het elkeen hul porsie lief en leed ervaar in my huwelik met hul pa. Dis ‘n gesprek op sy eie.  Ek is egter dankbaar en trots op elkeen van hulle, wat nie toegelaat het dat hul omstandighede hulle definieer nie, maar dat al drie (met soms stampe en stote) gekies het om uit te styg bokant hul omstandighede van geldnood, ouers wat skei en emosionele krisisse.

Melanie was eers ‘n kraamsuster terwyl hulle nog in Suid-Afrika gebly het. Sy is meer as net my dogter. Sy is ook my vriendin. Dit was vir my baie swaar dat hulle so ver weg moes gaan, maar hulle is gelukkig en dit gaan goed met hulle. Ek het een van my beste lewenslesse by haar geleer. Dit was die dag toe al ons aardse besittings van die plaas af in Bloemfontein aangekom het. (Ons het op ‘n plaas in die Oos-Kaap gewoon). Die werkers het al die bokse van die stoep af uitgepak tot op die sypaadjie. Met ‘n baba op my heup en die moegheid en moedeloosheid wat my wou oorweldig, roep ek uit (ek dag niemand hoor my nie): “Ag Here, waar moet ek begin?” Skielik klink Melanie (toe in gr. 8) se stemmetjie hier agter my op: “Dis OK Mamma, kom ons begin sommer net met die eerste boks!” Dit was kosbaar. Ons het toe met die eerste boks begin en voor die son gesak het, was al die bokse min of meer verlos van hul inhoud. Van toe af was daar menige krisisoomblikke in my lewe waar ek net vir myself moes sê: “Toemaar, begin net met die eerste boks.” ☺

Jannie is my kind wat die swaarste gekry het as gevolg van ons huislike omstandighede. Toe hy op sy weerloosste was as laerskoolseuntjie, was ons gesin op ‘n finansiële laagtepunt en het ek ook saans by die Universiteitsbiblioteek gaan werk – ek moes sorg, het ek geglo. In die proses was hy baie alleen en het hy ervaar dat niemand daar was vir hom nie. Ousus het letterlik gehelp om die baba groot te maak en elke dag was ‘n stryd net om te oorleef. Hy het baie seer en baie kwaad gehad in sy hoërskooljare. Gelukkig het die Here hom ‘n wonderlike vrou gegee en het hy ‘n sterk karakter wat hom gehelp het om vas te byt, deur te druk en sy kop op te lig. Dis ook in hierdie tyd wat my pa baie siek was met kolonkanker en later oorlede is. Ek het tussendeur ook my ma gehelp om hom te versorg.  

Johan se geboorte was ‘n uiters traumatiese proses. Van die begin af wou hy net aborteer. Ek het vir lank bly vloei, toe kon ek lank nie piepie nie – moes met ‘n kateter loop; toe kry ek karpale tonnelsindroom in altwee hande en word geopereer; toe is daar ‘n skeur in my vrugsak en dreineer die vrugwater sodra dit op ‘n sekere vlak kom.

vrou-wat-bid

Ons het toe nog op ‘n plaas in Molteno gebly, en op die ou einde het ons huisdokter my Bloemfontein toe gestuur. Daar het ek vir 3 maande in die hospitaal gelê met ‘n baba van wie niemand geweet het of hy sou bly lewe nie. Nadat hy toe te vroeg deur middel van ‘n keisersnee gebore is, het hy epileptiese aanvalle begin kry sowel as infeksie in sy derms. Op ‘n stadium het die dokters vir my gesê ek moes hom groet, hy sou dit nie maak nie.

Ná ‘n deurnag-bid in die hospitaal se kapel, het God sy lewetjie gespaar. Die dokters kon geen fout vind met sy brein nie, die aanvalle het opgehou en die volgende dag het hy op sy eie begin drink. ‘n Maand later kon ons hom huis toe vat.

Foto Pexels

‘n Ortopeed het genoem dat weens ‘n klein probleem by sy bekken, hy heel waarskynlik nog sou kan loop, maar beslis nie hardloop nie. Wel, op 9 maande het hy geloop en toe hy 2 jaar oud was, het hy bome geklim. Later was hy ‘n semi-atleet vir Red Bull in die sport Parkour. Dit het weer sy getuienis geraak: selfs al het die duiwel probeer om te keer dat hy lewe, het God deurgekom en sy lewe gespaar, omdat Hy ‘n plan het. Gelukkig het Johan ook iewers “groot geword” en desperaat begin soek na God se doel vir sy lewe. Vandaar die passie om mense na Jesus te lei.

6 Jy het onlangs ‘n wonderlike kuier in Sydney gehad! Vertel meer.

Sjoe, hierdie was ‘n heerlike kuier by die kinders. Hulle het my vreeslik bederf - van al die mooi dinge wat ek kon beleef en sien, tot by sommer net lekker sit en kuier en oorlaai word met liefde. My dogter ken my “love language” en ons het lekker baie Cappuccinos gedrink in Coffee Shops en straatkafeetjies. Dit was so wonderlik om te beleef hoe skoon en mooi die stad is. Alles werk: die veerbote, die treine, die busse en selfs die fietse in die stad waarmee jy gou klein entjies kan ry. Die hawe is ‘n veilige plek, selfs om middernag.

sonja-goldberg-met-high-tea

Dit was ‘n asem ophou-oomblik om na ‘n opera in die bekende Sydney operahuis te gaan kyk en foto’s te kon neem met die bekende Sydneybrug in die agergrond. Ons het die nou straatjies in die ou deel van Sydney verken, maar kon ook ronddwaal in wonderlike boekwinkels en spogwinkels en ek kon ‘n High Tea-bederf beleef in die Koninging Victoriagebou met al sy prag en praal.

sonja-goldberg-in-die-natuur

Ek was elke keer verras dat ‘n mens nog die een oomblik deur ‘n bewoonde gebied ry en die volgende oomblik draai jy skielik af en word jy toegevou onder die takke en blare van ‘n pragtige woud!! Wat ‘n belewenis. Die kinders het my ook vir ‘n daguitstappie na die bekende Blue Mountains geneem en op ‘n uitkykpunt laat staan waar jy jou asem moet intrek omdat dit voel: “Ek staan op die eindpunt van die aarde!!” Dis asof die grond onder jou wegsak en jy kyk af in ‘n duiselingwekkende afgrond. Pragtig en wonderskoon.

Van my kosbaarste oomblikke was die lekker Rummikub speel met die kleintjies en die vroeg-oggend geselsies met my oudste kleinkind. Die voorreg om vir ‘n kort rukkie deel van hul lewe te wees was vir my amper te groot om te dra. Ek het my dogter oral soos ‘n skoothondjie gevolg, want ek wou haar net nog ruik (Ja, ek kan my kinders ruik! En al is hulle getroud en bly hulle ver, ruik ek nog steeds hul eie bekende reuk) en vasdruk en met haar gesels. My skoonseun het my baie van die omgewing geleer en veral van die “flying foxes” – in ons terme: ‘n vreeslik-baie groot vlermuis. ☺

Die Here was werklik so goed vir my.

7 Wat waardeer jy omtrent jou man, Eddie?

Sjoe, daar is soveel dinge. Hy het natuurlik ‘n vreeslike mooi stem (radioman, sien!), mooi oë, ja... hy’s baie aantreklik, maar ook ongelooflik talentvol.  Dit wat uitstaan is die feit dat hy altyd vir my die motor se deur oopmaak en dat hy nooit, ooit sal sien dat ek swaar pakkies of goeters dra nie. Hy sal altyd vat en help.

Sy wonderlikste eienskap is dat hy die gawe het om my altyd te laat voel asof ek die mooiste en sexyste vrou op aarde is. Dis amazing, want soos wat ons ouer word, raak ons vroue mos maar tog te bewus van al ons bulte en plooie!☺

sonja-en-eddie-goldberg

Verder is hy ‘n ongelooflike begaafde musikant en sowaar... dis asof hy dit nie eens altyd besef nie. Die heerlike van ons huwelik is dat ons altwee baie lief is vir Jesus. Ons hou saans saam stiltetyd en bid graag saam. Dis vir my ‘n geweldige voorreg en ek dink ook ‘n baie sterk hulpbron in die tye waar ons swaar trek. Soggens hou ons weer elkeen ons eie stiltetyd met God. Ons is op die oomblik baie bevoorreg dat God ons saam in die kerk gebruik: vir my as Geestelike Leier en vir hom as hoof van die orkes. Dis lekker om saam vir die Here te werk en om gevolglik die gemeente se lief en leed saam te kan dra.

Daar is nog baie dinge, soos dat hy my sal roep as daar ‘n mooi volmaan is, of as die planete in een of ander formasie is. Ek kan hom weer roep en altyd weet hy sal kom kyk as ek iets moois in die natuur sien. Dis wonderlik om saam die klein dingetjies om ons te kan waardeer.

Op die einde van die dag is hy my man (eggenoot), maar ook my beste vriend, ‘n geesgenoot, ‘n hulp, ‘n trooster.

Kortweg kan ek sê hy help my om die beste van myself te wees, en veral ondersteun hy my geweldig baie in my droom om God se Woord te kan uitdra.

8 Wat sou jou spesiale boodskap vir vroue van enige ouderdom wees?

Kies om Jesus Christus hoof van jou hart te maak. Want as jy op daardie plek is, sal Hy jou wys hoe waardevol jy vir Hom is. (Ons vroue voel tog so gou dat ons nie goed genoeg is nie, né?)

God sê: Jy is vir Hom kosbaar; Hy het jou lief; selfs die hare op jou kop het Hy getel; jou naam is in sy handpalms gegraveer; wie sy oogappel (dis jy) aanraak, raak Hom aan. Niks en niemand sal jou uit sy hand uitruk nie.

Verder het ek geleer dat daar altyd Hoop is vir ‘n beter more. Die slegte goed in ons lewens gaan wel een of ander tyd verby en God gee altyd ‘n uitkoms – vir dié wat aan Hom vashou. Dis nie altyd so gou soos wat ons dit wil hê nie, maar Hy kom vir jou deur op Sy tyd.

Iemand het eenmaal gesê: “If it’s not God’s time, you cannot force it. If it IS God’s time, you cannot stop it!!” Ja, wag op die Here!

Ek is deur ‘n huwelik van 21 jaar se trauma en hartseer, ek ken dus die reuk van ‘n hofgebou en die finaliteit van ‘n egskeiding. Ek ken die vernedering van elke vorm waarop ek moes sê ek is ‘n geskeide vrou – ek, wat dan nog my lewe lank so lief is vir Jesus?? Wel, ek het drie wonderlike kinders, so God het verseker nog al die tyd ‘n plan!!

Ek ken totale armoede waar daar net brood en ‘n bottel melk in my yskas was; ek ken die vernedering om “aalmoese” (koevertjies geld, kos, tweedehandse klere) van ander te ontvang, ek ken die skok as die Molesterings-monster aan jou deur kom klop, ek ken dit as jou geliefdes sterf (my ouers en my broer), ek ken opstandige tieners in die huis en ek ken ‘n baba wat tande kry en sukkel om te slaap terwyl jy jou werk getrou en perfek moet kan doen; ek ken die eensaamheid van alleenwees as ander gelukkige gesinne dinge saam doen. Ek ken die gevoel van mislukking, van teleurstelling, van kwaad wees, van hartseer wees en van depressie wat my hart wou donker maak.

Ek ken die stremming op jou menswees wanneer jy probeer om jou kop hoog te hou en te maak asof dit goed met jou gaan, terwyl jy weet jou hele bestaan lê alreeds aan skerwe by die huis.

Foto Unsplash

Maar ek kan jou gelukkig vertel en bemoedig met die feit dat, as jy aan Jesus vashou met alles wat jy het, as jy kies om aan te hou bid, jou Bybel te lees en jou te omring met mense wat Hom ook liefhet en wat saam met jou en vir jou kan bid, dan SAL jy OK wees. Nee, dan sal jy meer as OK wees. Dan sal jy ervaar hoe God jou Sy vrede gee wat alle verstand te bowe gaan – selfs wanneer jou omstandighede nog nie lekker is nie. Dan sal jy ervaar hoe Hy dikwels jou omstandighede verander nog voordat jy daarvoor vra. Jy sal ervaar hoe God vir jou deurkom. Jy sal besef dat trots eintlik jou vyand is en dat die woorde: “Vader, laat U wil in my lewe geskied. Nie soos ek wil nie, maar soos wat U goed dink!” jou van besliste ondergang gaan red. Want al wat God van ons vra, is ‘n totale oorgawe aan Hom.

Hy ken mos ons hart en omstandighede. Hy sien tot in die verste geslag. En nie dit gaan nie altyd oor my en my klein wêreldjie nie. Dis nogal verrassend hoe God soms die seer in ons lewens gebruik om ook ander mense aan te raak en te bemoedig. Soms het ons seer tot gevolg dat ons uit ons eie gemaksone (comfort zone) moet beweeg en dan krag en nuwe dinge in onsself ontdek waarvan ons andersins nooit bewus sou wees nie.

Die beste plek ooit om by uit te kom, is wanneer ons verstaan dat ons eintlike doel op aarde is om ander mense te help om ook by Jesus uit te kom. Ons tydjie op hierdie aarde is maar net ‘n gedagte in verhouding met die ewige lewe. As ons fokus kan wees om nog meer mense saam met ons te vat op ons pad hemel toe, dan het ons geslaag in die roeping wat God vir ons het.

 

Foto: Carli Barnard Photography & Designs

Meer oor Sonja, insluitend haar kontakbesonderhede

Sonja Goldberg, vir meer as 40 jaar ‘n grondslagfase onderwyseres in hoofstroomonderwys en onderwys vir kinders met spesiale behoeftes, het ná aftrede Teologie studeer en is vandag Geestelike Leier by die Familiekerk Bottelary, Brackenfell, in Kaapstad. Sy tree ook op as spelterapeut (spesifiek sandterapie-intervensies), berader en spreker.

Sonja is die skrywer van 3 oordenkingsboeke:

Leef jou nuwe lied (NB Uitgewers), geskryf saam met haar suster, Elsa Winckler

Kom saam: Inspirasie vir jou lewensreis (LUCA)

Kom saam: Wysheid vir jou lewensreis (LUCA).

Sonja skryf graag oordenkings vir radio asook stukkies vir die YouVersion Bybel-toep.

Webwerf: https://sonjagoldberg.co.za/

E-posadres: sonja@sonjagoldberg.co.za

Facebook: Sonja Goldberg

LinkedIn: Sonja Goldberg

Instagram: goldbergsonja

Hooffoto: Unsplash

Ander foto’s: verskaf.

Previous
Previous

Dr Julia Kukard on the scarier the better, her superpower, and painting ugly where she needs to 

Next
Next

Philip Liebenberg oor rowwe rommel, eietydse integrasie en ‘n skaaplam by sy voete