Mariette Snyman

View Original

Is jou kind net moeilik, of is die oorsaak “Oppositional Defiant Disorder”?

Kinders wat ten alle koste hul sin moet kry – al doen ouers ook wát – het moontlik ODD, ‘n neuro-ontwikkelings-verwante toestand. Dr. Isaura Ribeiro, pediater van Pretoria, praat oor die oorsake, kenmerke, diagnose en behandeling.

See this content in the original post

You can read more about Oppositional Defiance Disorder here

“Buig die boompie terwyl hy nog jonk is,” het die oumense graag gesê. As jy wrang wonder of hulle ooit ’n jong boompie soos joune teëgekom het – een wat eerder ’n orkaan sal trotseer as om hom te laat buig – het jy dalk te make met Oppositional Defiant Disorder of ODD.
“Onder twee- tot driejariges is verset en weerstand of ‘opposisionele gedrag’ normaal,” sê dr. Isaura Ribeiro, pediater by ’n holistiese pediatriese sentrum in Pretoria. “Ons praat nie verniet van die terrible two’s nie. Hierdie kleintjies word deur hul emosies oorheers: die hartjie werk baie harder as die brein. Dis ’n ontwikkelingstadium waarin kinders grense toets om vas te stel hoe ver hul onafhanklikheid strek. Hulle wil alles ‘self’ doen, maar omdat hulle nie kan nie, is daar baie frustrasie. Ons sien swak impulsbeheer en hoor gedurig die woordjie ‘nee!’
“Namate hierdie kinders leer om hul behoeftes beter uit te druk en hul vaardighede en eiewaarde toeneem, gaan dit beter. In die tienerjare keer hierdie ooremosionele gedrag terug. Dan word die grense wéér getoets en raak outonomie weer ’n reuse-strydpunt.
“Kinders met ODD wyk af van hierdie patroon. Hulle is, en bly, van kleins af defiant. Om hul eie wil tot elke prys af te dwing vorm deel van hul temperament. Dit maak nie saak of hulle ’n ouer, onderwyser, sportafrigter of ander gesagsfiguur aanvat nie - hulle móét hul sin kry. Hulle gee ook nie om wat hulle in die proses moet prysgee nie. Speelgoed en voorregte is van minder belang as om die geveg te wen. Hulle sál nie ingee nie.

Tekens wat dui op ODD

Kinders met Oppositional Defiant Disorder mag

  • hul humeur verloor

  • met volwassenes argumenteer

  • weier om opdragte uit te voer of by reëls te hou

  • ander opsetlik irriteer of ontstel

  • uiters liggeraak wees

  • ander vir hul eie foute of wangedrag blameer

  • wrokke koester

  • of gemeen optree.

“Die patroon van uiterste vyandigheid, negatiwiteit en verset is veral op gesagsfigure gerig. Dit kom so standhoudend voor dat dit die kind se tuis-, skool- of sosiale omgewing ontwrig en funksionering op dié terreine benadeel.”

Wie kan ODD diagnoseer?

“ODD is ‘n ingewikkelde diagnose om te maak. Dit moet deur ’n professionele medikus, verkieslik iemand met ervaring in dié verband, gediagnoseer word aan die hand van die diagnostiese handleiding wat wêreldwyd gebruik word: die DSM-V. ’n Sekere aantal simptome moet minstens ses maande lank voorkom en beduidend wees in vergelyking met die normale gedrag van die kind se ouderdomsgroep. Die diagnose sluit kinders uit wie se simptome met ’n psigotiese episode, ’n gemoedsversteuring soos depressie of bipolêre siekte, of fisieke oorsake verband hou. Dit moet ook nie te wyte wees aan ’n kortstondige, stresvolle situasie nie. Soms word die woede veroorsaak deur frustrasie, selfhaat, vrees, boelie-ervarings of mishandeling. Kinders met ODD raak tipies nie by jeugmisdaad betrokke nie.”

Oorweeg ODD as ’n moontlikheid wanneer

  • jou kind ná skool tantrums kry

  • eenvoudige opdragte soos ’n versoek om skoolklere in die wasgoedmandjie te sit tot ’n uitbarsting of tranedal lei

  • dissiplinering en die uitwys van die logiese gevolge van ontoelaatbare optrede geen effek het nie

  • reëls as onregverdig, belaglik of onderhandelbaar beskou word

  • jou kind jou hoor, maar kies om jou te ignoreer

  • leuens vertel

  • tantrums het in die openbaar

  • doelbewus jou knoppies druk om konflik uit te lok

  • weier om verantwoordelikheid vir ontoelaatbare gedrag te aanvaar

  • skoolmaats terg, uittart of rof behandel

  • voorwerpe rondgooi

  • “vergeet” om huiswerk te doen

  • of kwaad word wanneer hy of sy gevra word om klein takies in die klas te doen.

“ODD kom meer by seuns voor, en word dikwels deur aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteitsindroom (AA/HS) vergesel.

Kinders met ODD se gedrag word dikwels as opsetlik of aspris gesien. Tog is dit nie hul intensie om ander te na te kom nie.

Is dit ouers se skuld?

“Ek verseker ouers altyd dis nié hulle skuld as ’n kind ODD het nie - daar is neuro-ontwikkelingsaspekte betrokke. Die oorsake van die toestand word nog nagevors, maar dis waarskynlik ’n kombinasie van genetiese, omgewings- en sosiale faktore. Sommige bydraende faktore kan wel hanteer word, soos wanvoeding, swak ouer-kindverhoudings of ’n onstabiele skoolomgewing. Baie keer speel gepaardgaande toestande soos AA/HS of angsversteurings ook ’n rol.
“Kinders kan ODD ontgroei, maar die toepassing van vroeë intervensie is noodsaaklik en kan nie genoeg beklemtoon word nie. Hoe gouer daar ingegryp word en die nodige hulp verkry word, hoe beter is die uitkoms. In ’n persentasie van die gevalle skakel ODD mettertyd oor na Conduct disorder, ’n ernstiger gedragsversteuring wat tot destruktiewe, antisosiale optrede kan lei.”
“Die ouers is gewoonlik sielsmoeg en moedeloos. Dis regtig moeilik om ’n koesterende, geborge verhouding en gesonde grense met hierdie kinders te handhaaf. Dis ook hartverskeurend vir ouers as ander mense hul kind in ’n negatiewe lig sien vanweë oningeligtheid oor ODD, en nog erger as die kind byvoorbeeld uit die skool geskors word.

Behandelingsmoontlikhede en wat ouers kan doen

“Hoewel daar geen kitsoplossing is nie, is ODD nié ’n ‘verskriklike diagnose’ nie. Op die lang duur kan daar baie vermag word. Ek begin deur inligting van ouers, onderwysers en ander betrokkenes te kry om die kind se interaksies in verskillende milieus te ontleed en te verstaan. Ek praat ook met die kinders om te hoor wat hul ervaring is. Geen kind of ouer wil elke dag baklei weens die kind se onbeheerbare emosies en reaksies nie. Vir die kind voel dit baie keer of die hele wêreld teen hulle gekant is en hulle net mooi niks reg doen nie.
“Die behandeling vir ODD verskil van kind tot kind. Ons benadering is holisties: ons fokus op die ouers, die kind, en faktore wat tot die toestand bydra.
“Ouers het baie ondersteuning nodig, veral van hul familie en die skool. Dit help as hulle ’n kopskuif oor hul kind kan maak. Jou kind se sterk wil is nie net ’n ‘kruis’ nie – dis ook ’n superpower. Die wêreld kort mense wat vreesloos weier om hul waardes en beginsels prys te gee.
“Ek nooi ouers om oor die doelstelling van opvoeding te besin. Dis nie om ’n ‘soet’ kind te hê nie, maar ’n volronde volwassene te kweek met die nodige vaardighede om die werklikheid te hanteer, hul potensiaal te verwesenlik en ’n mens uit eie reg te wees. Die uitdaging is om jou kind te help om hul weg te vind sonder om hulle te ‘breek’. Ja, jy wil graag jou gesinswaardes by jou kind inskerp, maar sonder om hul eiewaarde of jul verhouding te skaad.
“Die beste toerusting vir ouers is die vermoë om hul eie emosies te beheer en te leer hoe om hul kind doeltreffend te benader. Ouers sê dikwels dat die kind hulle uitlok deur aan te hou stry, ’n pak slae af te lag, ensovoorts. Maar sodra die ouers ook emosioneel reageer, is die vet in die vuur. Weens elke dag se stryd kan ouers buite beheer begin voel. Dit is belangrik dat ouers hul grense verstaan en self professionele hulp kry indien hulle dit nodig het.
“Wat wel werk, is om positiewe gedrag te versterk. As ’n baba leer loop, prys ons hom, selfs al stamp hy iets om. Ons verstaan hy is besig om sy pad te vind. Met ouer kinders stel ons voortdurend hoër verwagtings terwyl ons vergeet om hul pogings te prys.
“Doeltreffende positiewe versterking voorveronderstel dat jy verstaan wat jou kind se geldeenheid is.

“Die kern van die saak is dus om gewenste gedrag met positiewe aandag te beloon, en op ongewenste gedrag te reageer deur weg te loop of te sê: ‘Ek gaan nie nou betrokke raak nie maar sodra jy bedaar, kan ons hieroor praat.’ Wanneer die kind afgekoel het, gee jy haar die geleentheid om te verduidelik wat gebeur het, en hoe jy én sy anders kon opgetree het. Ons beveel aan dat ouers die PET-program (Parent Effectiveness Training) vir kinders van verskillende ouderdomme loop wat hulle help om hierdie kuns te bemeester.”

Die aanleer van emosionele beheer en mindfulness

“Kinders met ODD vind baat by spelterapie, wat die aankweek van sosiale vaardighede insluit. Dis essensieel dat hulle leer om hul emosies te herken, te verbaliseer, en gepas uit te druk. Ons leer hulle om kleure aan verskillende emosies te koppel en vas te stel waar hulle ’n emosie in hul lyf voel, byvoorbeeld: ‘Watter kleur is jy as jy gelukkig voel? Waar voel jy dit?’ Ons vra hulle om drie dinge op te noem wat hulle gelukkig laat voel, en hoe hulle behandel wil word wanneer hulle so voel.

“’n Kind sal byvoorbeeld sê wanneer sy kwaad is, voel sy oranje, en sy voel dit eerste in haar handjies. Dit maak haar kwaad wanneer iemand nie na haar luister nie,’n maatjie haar stamp, of wanneer die juffrou met haar raas. Wanneer sy kwaad is, wil sy hê mense moet haar ’n rukkie uitlos tot sy beter voel. As sy by die huis kom en sê sy het vandag by die skool oranje gevoel, weet Mamma sy moet haar ruimte gee. Kinders leer ook wat om te doen wanneer Mamma of Pappa oranje voel. “Ouers weet maar te goed dat kinders met ODD soos ’n vulkaan kan ontplof. Dit het altyd ’n aanloop, maar wanneer die vulkaan alreeds rammel, is daar geen keer nie. Dan help dit nie om te redeneer nie.

“Ons probeer kinders mindfulness leer. Hulle kyk graag na How to train your dragon, en ons speel die kind is die karakter Toothless. Hy staan op die eiland en voel die wind in sy hare. Daar is skepe wat die drakies wil kom vang, en die kind moet vuur blaas om die skepe te sink. Hy het tien asemteue. Hoe dieper hy deur sy neus inasem, hoe groter is die vlam wat hy uitblaas. Hierdie oefening is kalmerend. By die skool kan daar ’n drakiekaart wees wat die kind of die juffrou op die tafel kan sit as dit nodig raak om asem te haal, of die juffrou kan die kind stuur om iets te gaan doen sodra sy die vulkaan hoor rammel.

“Afgesien van ’n gebrek aan impulsbeheer ervaar kinders met ODD ’n hoë vlak van frustrasie. Ons kan hulle prakties help om deur die dag te kom en meer sukseservarings te hê. Ons grootmense maak lysies vir alles. Maak ’n lysie van wat jou kind byvoorbeeld vir swemles moet inpak. ’n Rooster vir huis- en ander takies met ’n gepaste beloningstelsel kan wondere verrig (sien die rooi - rose.co.za-verwysing hieronder).
“As deel van die behandeling identifiseer ons faktore wat tot ODD (of ODD-tipe gedrag) bydra. Dit kan trauma, leerprobleme, ’n swak slaappatroon, moeilike huislike omstandighede of ’n boelieprobleem insluit. Ons probeer maniere kry om hierdie faktore uit te skakel of die uitwerking daarvan te beperk.

Is daar medikasie vir ODD?

“Ouers vra gewoonlik na die gebruik van medikasie. Ons gebruik medikasie slegs om gepaardgaande toestande soos AA/ HS of ’n angsversteuring te behandel. Medikasie alleen is nie doeltreffend in die behandeling van ODD nie.
“Ek werk graag met kinders wat nie ‘in die boksie’ pas nie. ’n Toestand soos ODD is nie ’n etiket nie – dis ’n hulpmiddel wat ons help om meer begrip te toon. Dis bevredigend om maniere te kry om hierdie ‘boompies’ te beskerm sodat hulle takke nie gebreek word nie, maar hulle gesond en hoog kan groei.”

Kontakdetail

Dr. Isaura Ribeiro: Peads in a Pod Paediatrics, Die Wilgers, Pretoria,

www.paedsinapod.biz of tel. 066 237 4237

PET-programme: Kontak Heidi Malan by tel. 0829048127, stuur ‘n e-pos na parentssouthafrica@gmail.com of besoek die webwerf www.parents.co.za

Hierdie artikel het oorspronlik in rooi rose verskyn.

Foto’s: Pexels, tensy anders vermeld. Modelle is gebruik.